Sonlig

Die helende strale van sonlig

En God het gesê: Laat daar ligte wees aan die uitspansel van die hemel, om skeiding te maak tussen die dag en die nag; en laat hulle dien as tekens sowel vir vast tye, asook vir dae sowel as jare. Laat hulle ook dien as ligte aan die uitspansel van die hemel om lig te gee op die aarde. En dit was so. God het toe die twee groot ligte gemaak: die groot lig om te heers oor die dag en die klein lig om te heers oor die nag; ook die sterre. En God het hulle aan die uitspansel van die hemel gestel om lig te gee op die aarde en om te heers oor die dag en oor die nag en om skeiding te maak tussen die lig en die duisternis. Toe sien God dat dit goed was. En dit was aand en dit was môre, die vierde dag.
Genesis 1:14-19

Dit is die Bybel se beskrywing oor die skepping van die son, maan en sterre. 
Die son is 1.3 miljoen maal groter as die aarde. Sonlig wat die aarde bereik verteenwoordig slegs sowat een deel in 2 biljoen van die totale hoeveelheid energie wat deur die son uitgestraal word, maar nogtans is dit genoeg om ons planeet te voorsien van omtrent 4,7 miljoen perdekrag per vierkante myl.
Hierdie strale van elektromagnetiese energie trek teen ‘n snelheid van 186,000 myl per sekonde en neem sowat 8 minute om die 93 miljoen myl van die son na die aarde toe af te lê. Sonlig bestaan uit verskeie tipes energie wat die volgende insluit: kosmiese-, gamma- en x-strale, ultraviolet- en infrarooilig, asook die sigbare lig bestaande uit verskillende kleure. Die rëenboogkleure van sigbare lig maak ons aarde en die dinge wat God geskape het mooi om na te kyk.

Die son se strale verdamp die water wat uiteindeik weer val as rëen en sneeu, wat ons riviere en damme volmaak en sodoende die opwekking van hidro-elektriese krag moontlik maak. Son-energie is ook gestoor in hout, steenkool, olie en natuurlike gas wat ons van energie en hitte voorsien wanneer ons dit benodig. Daar is ook fotovoltaïse en passiewe son-energie stelsels wat ons in staat stel om sonlig direk op te vang vir gebruik.

Die verwarmende infrarooi strale van die son, of hitte van verskeie ander bronne, is nuttig in die behandeling van sinkings, senuwee-ontsteking, artritis, en sinusitis. Hitte is gewoonlik goed vir die behandeling van pyn. Hitte help ook om heilsame, natuurlike liggaamsolies, wat die vel beskerm en sag hou, na die oppervlak te bring.

Feitlik al die kossoorte wat ons eet maak staat op sonlig om te groei. Om die waarheid te sê, die energie wat ons liggame opneem uit die kos wat ons eet, is in ‘n sekere sin, son-energie wat die plant gestoor het in die vorm van vette, koolhidrate en protiëne.

Ultraviolet strale is antisepties en in staat om bakteria, virusse, fungi, swamme, skimmel, en myte dood te maak in lug, water en op oppervlaktes.
Selfs weerkaatste lig vanaf vensters kan bakteria vernietig in die stof op vensterbanke en vloere. Aangesien die meeste vensterglas omtrent 95% van die ultraviolet strale uitfiltreer,is dit ‘n goeie idee om elke dag die vensters bietjie oop te maak en die gordyne weg te trek. Ultraviolet lig vernietig ook kieme op jou vel. Dit maak dat ‘n sonbad ‘n handige behandeling is vir baie velsiektes, soos onder andere luieruitslag, atletiese voete, psirose, aknee, swere en impetigo (ernstige vel aandoening).

Sonlig versterk en verdik die vel sodat dit minder vatbaar is vir besering en infeksie. Gereelde, beheerde, matige blootstelling aan sonlig, sal in plaas daarvan om die vel te beskadig en te verouder, dit in werklikheid beskerm deur ‘n natuurlike weerstand op te bou teen die nadelige gevolge van ultraviolet lig en dit terselfdertyd ‘n lekker fluweelagtige voorkoms gee. Later sal ons ‘n paar voorsorgmaatrëels bespreek, maar vir eers, nog ‘n paar voordele.

Ultraviolet lig skakel cholestrol in die vel om na vitamien D. Hierdie vitamien is noodsaaklik vir die behoorlike hantering van kalsium in die liggaam en dus in die voorkoming van rachitus (engelse siekte) en osteomalasia (pynlike sagwording van bene). Vitamien D word ook by sommige voedselsoorte gevoeg. Dit is moontlik dat mens te veel van die vitamien inkry op hierdie manier, maar glad nie wanneer dit van sonlig afkomstig is nie, die liggaam produseer net soveel as wat ons nodig het. Om uit te kom in die son is dus ‘n goeie manier om cholestrol vlakke in die liggaam af te bring. As ons ses vierkante duim (plus minus veertig vierkant sentimeter) vel oppervlak aan direkte sonlig blootstel vir een uur elke dag, sal ons die minimum nodige hoeveelheid vitamien D verkry.

Sonlig help met die regulering van bykans al ons liggaamsprosesse en funksies. Sonlig het van kop tot tone ‘n invloed op ons liggame, dit laat mens goed voel en beter slaap. Ultraviolet lig wat deur mens se oë inkom, stimuleer die pineale klier wat ons aktiwiteitsiklusse beheer. Daar word gesê, “Donker nagte en helder dae help om die hormone in die liggaam behoorlik te laat funksioneer.” In ‘n eksperiment is die hiperaktiwiteit by skoolkinders verminder deur die klaskamer se fluoriseerbuis ligte te vervang met volspektrum buise (Die uitstraling is soortgelyk aan sonlig). Skildklier werking verbeter en hormoon wanbalans neig om terug te keer na normaal.

Rustende hartklop tempo, bloeddruk en asemhaling tempo verminder na ‘n sonbad. Hierdie resultaat is veral merkbaar indien een van bogenoemde hoog was om mee te begin. Bloedsuikervlakke kan gestabiliseer word. ( Let wel: Diabete moet ekstra versigtig wees in die son aangesien hulle ‘n groter risiko loop om permanente skade op te doen as gevolg van sonbrand.)

Sonlig stimuleer die vervaardiging van rooi bloedselle, wat die suurstofinhoud van die bloed verhoog en dus spieruithouvermoë verbeter. Dit stimuleer ook die vervaardiging van wit bloedselle, veroorsaak verbeterde suurstof gebruik en sodoende is die liggaam beter in staat om weerstand te bied teen siektes. Alhoewel sekere velkankers geasosieer word met blootstelling aan sonlig, blyk dit dat die voorkoms van ander meer ernstige interne kankers afneem.

Aptyt mag verbeter, so ook ons assimilasie-, eliminasie- en metaboliese prosesse. Giftige chemikalië en swaar metale word vinniger uit die bloedstroom verwyder, terwyl die vlakke van heilsame spoorelemente in die bloed verhoog word. Spierkrag word verbeter, selfs by diegene wat nie oefening kon doen nie. Daar is selfs gevind dat blootstelling aan sonlig voordelig is by die behandeling van maagsere.

Soos met die meeste goeie dinge is dit egter nodig om ‘n paar voorsorgmaatrëels in ag te neem. Die hoof bekommernis is dat die vel sal brand. Normaalweg word die onsigbare pigment in die binneste lae van die vel omskep in melanin, ‘n baie donkerder pigment wat meer geredelik die son se strale reflekteer, maar hierdie proses neem tyd. Blonde mense met blou oë, asook mense met rooi hare pas nie so maklik hierby aan nie en dit is hulle wat die maklikste brand. Die hoeveelheid natuurlike pigment in die vel is die belangrikste faktor, vir hierdie rede kry swartmense slegs sowat 20% die hoeveelheid velkankers wat witmense opdoen. Vir dieselfde rede kry hulle makliker rachites, as gevolg van ‘n verlaagde produksie in vitamien D. Die hoeveelheid velverbruining van vorige blootstellings is ook ‘n faktor. ‘n Goeie, gesonde sonbruin vel kan soveel as 90% van die skadelike strale wat velbrand veroorsaak weerkaats. Daar is egter ook mense wat vir een of ander rede hipersensitief is vir selfs ‘n kort blootstelling aan die son. Sekere medikasies, deodorante, skoonheidsmiddels, seep, en alkoholiese drankies kan die vel meer sensitief maak vir sonlig.

Oormatige onversadigde en poli-onversadigde vet in die dieet en in sonbrand olies lei tot die vorming van vrye radikale. Hierdie vette kan ‘n bydraende rol speel in die vorming van sekere kanker soorte. Genoegsame hoeveelhede vrugte, groente en heelgraan produkte in die dieet voorsien voedingstowwe wat help met die voorkoming van vrye radikale, verminder hulle nadelige effekte en is dus belangrik vir die liggaam se werking en korrekte hantering van sonlig.

Oormatige blootstelling aan sonlig veroorsaak dat die vel skubberig, droog, rooi, grof en leeragtig word. Dit veroorsaak ook plooie. Hierdie toestande is nie as gevolg van normale veroudering nie, aangesien die nie-blootgestelde dele by dieselfde persoon nie hierdie tekens toon nie. In der waarheid vind daar geen normale veroudering van die vel plaas voor die ouderdom 50 nie. Die kapilêre aartjies in die vel is vyftig maal dunner as ‘n haar en kan permanent beskadig word deur sonbrand, met gevolglike verlies aan elastisiteit en kan makliker kneus of breek.

Oorverhitting van die liggaam kan maklik lei tot hitte uitputting en sonsteek (hipertermie). Die grootste gevaar is egter velkanker. Dit is die mees algemeenste kanker en 80% kom voor op blootgestelde areas van die gesig, kop, nek, arms en hande. Ultravioletlig afkomstig van sonlig is die groot sondebok. Die Nasionale Kanker Instituut in Amerika beraam dat daar 300,000 gevalle van twee tipes kanker (basale sel & skubagtige sel) en 9,000 van die meer dodelike tipe, nl. kwaadaardige melanoma, voorkom. Kwaadaardige melanoma neig om op die minder blootgestelde dele van die liggaam te ontwikkel en kan dus nog nie uitsluitlik met sonblootstelling geassosieer word nie. Hierdie drie saam lei tot sterftes van tussen 6,500 en 7,500 per jaar, sowat 3 % van alle kankersterftes. Die voorkoms en sterftes as gevolg van die eerste twee is aan die toeneem weens ‘n toename in sonblootstelling. Die sleutel tot voorkoming is om sonbrand en oormatige blootstelling te vermy.

‘n Nat vel brand makliker as ‘n droë vel. Om te sweet is egter goed, aangesien dit skoonmaak en die vel afkoel. Water is ‘n slegte weerkaatser (weerkaats 3-5%, dieselfde as glas) en ultravioletlig kan daardeur beweeg, gevolglik kan mens brand terwyl jy in die water is. Droë sand weerkaats sowat 17%, wit sand aansienlik meer en sneeu tot soveel as 85%. Kombineer sneeu met hoë hoogtes, waar die atmosfeer dunner is en meer sonlig deurlaat, en jy het ‘n goeie resep vir sonbrand terwyn jy ski of bergklim. Slegs ‘n derde van die strale wat sonbrand veroorsaak kom direk van die son af, die ander twee derdes word uit alle rigtings na ons toe weerkaats.

Vroegtydige opsporing is die volgende linie van verdediging teen velkanker. As jy vermoed dat daar ‘n voor-kanker toestand is, soos ‘n moesie of enige ander letsel wat groei, van kleur verander, versprei, of bloei, moet jy dadelik ‘n geneesheer gaan spreek vir evaluasie. Hy of sy sal die beste kan bepaal watter tipe letsel dit is en wat die doeltreffendste behandeling daarvoor is.
Onthou, selfs al brand jy net een keer per jaar, in ‘n vyftig jaar tydperk het jy reeds 50 brand-gevalle op jou kerfstok. Hierdie kumulatiewe effek verhoog die risiko van velkanker. Enige oormatige son blootstelling kan gereken word dat dit ‘n voor-kanker toestand in die vel bewerkstellig.

Hoe kan mens sonlig die beste benut om die voordele te kry sonder nadelige gevolge? Die eerste rëel is: sonbruin, moenie sonbrand (E. tan don’t burn). Onthou dat as jou vel rooi word het jy klaar gebrand! Hou in gedagte die tyd van die jaar en die tyd van die dag. Soos wat die son hoër klim, so verhoog die stralings intensiteit.
Gewone glas laat nie veel ultravioletlig deur nie. Rook, rookmis en klerasie blokkeer ‘n groot hoeveelheid van hierdie strale. Wolke daarinteen filtreer slegs sowat 20% en mens moet versigtig wees vir sonbrand op ‘n bewolkte dag, veral as die son al hoog sit. Persone ongewoond aan sonlig moet hulle sonbruining beplan en blootstellings aanvanklik kort hou (2 minute per kant) en dan geleidelik die tydsduur en frekwensie vermeerder. Enige kleurverandering in die vel van meer as net ‘n ligte pienk, is ‘n aanduiding dat jy dit reeds oordoen het. Die terapeutiese uitwerking vind plaas net voor die stadium van waar jy begin rooi word. Onthou dit neem tyd vir die velkleur om te verander, kom uit die son uit voordat jy begin pienk word. As jy dit nie doen nie is dit moontlik klaar te laat. Die voordele word verhoog met korter, meer gerëelde blootstellings. Wanneer jy besluit jy het nou genoeg son gehad bied ‘n kledingstuk die beste beskerming. Jy kan ook ‘n chemiese sonskerm aansmeer op die vel. Hulle is nie nodig wanneer jy sonbaai nie, ook nie enige rome of olies nie. Skoon, droë vel is die beste vir sonbaai. Ondeurskynende smeersalf soos sinkoksied is die beste vir totale blokering by sensitiewe areas soos die neus en dit was nie so maklik af in water soos meeste ander sonskerms wat kort-kort aangesmeer moet word nie.

As jy glad nie kan sonbruin nie, moet nie probeer nie. Bedek die liggaam of smeer ‘n sonskerm aan. As jy kan sonbruin, doen dit geleidelik, en moet nooit toelaat dat jy brand nie. ‘n Solarium kan gebou word wat privaatheid en beskerming teen wind bied, sodat jy selfs in die winter kan sonbaai. Indien ‘n dak benodig word gebruik helder plexiglas, acrylite, of ander plastiek wat geëtiketteer is dat dit ultraviolet deurlaat, so dun as moontlik.
Ultraviolet lampe kan binneshuis gebruik word. Die fluoriseerbuis tipe is die geskikste en die uitstraling moet tussen 295 en 4 000 nanometer wees, niks minder as 295 nie aangesien dit skadelik is. Volg die instruksies altyd noukeurig. Sorg altyd dat die oë, geslagsdele en tepels bedek is. Wees versigtig dat jy nie onder die lamp aan die slaap raak nie. Vir veiligheid, gebruik ‘n tydskakelaar of wekker.

‘n Handige leuse is “Nie te veel – so dikwels as moontlik.” Kombineer produktiewe oefening in die vars lug en sonskyn vir ‘n waarlik gesonde trio.

Die skrifte verklaar: “Verder, soet is die lig, en goed is dit vir die oë om die son te aanskou.” Prediker 11:7
Ons Heiland, God se Seun, word verbind met die son en al sy voordele. Wanneer ons die son in die lug sien, laat ons ook onthou: “Maar vir julle wat my Naam vrees, sal die son van geregtigheid opgaan, en daar sal genesing onder sy vleuels wees.” Maleági 4:2

Saamgestel deur Kurt Unglaub, M.P.H.
Vry vertaal deur P Pheiffer

 volgende.gif English text: Sunlight


Vorige Hoër Hand

Top | Tuis | Kontak ons |

Volgende Vars lug


endbar