|
"God het toe die
twee groot ligte gemaak: die groot lig om te heers oor die dag en die
klein lig om te heers oor die nag; ook die sterre." Gen. 1:16
Het u al ooit in verwondering
opgekyk na die sterrehemel en
gewonder hoe groot dit alles nou eintlik is? Waar is die begin en die einde?
Sterrekundige afstande
Afstande in die sterrekunde is so groot dat baie mense geen begrip daarvan kan vorm nie. Die afstand van die Aarde na die Son is
nagenoeg 150 miljoen km en sterrekundiges noem dit een astronomiese eenheid ( A.E. ). Die afstand na Pluto is ongeveer 40 A.E., en na die naaste ster is dit meer as 270 000 A.E.
Kom ons maak ‘n skaalmodel van ons naaste sterrekundige omgewing tot op die afstand van die naaste ster. Ons krimp die aardbol tot ‘n deursnee van presies
3 mm. Volgens hierdie skaal is die son so groot soos ‘n ronde bal met deursnee 327 mm. Die naaste planeet aan die son, Mercurius, is 14 m ver en net oor 1 mm in deursnee. Venus, byna die tweeling van die Aarde, is 25 m ver, terwyl die Aarde self op ‘n afstand 35 m van die son is. Die Maan, nou nou slegs 0,8 mm in deursnee, wentel op ‘n afstand van 90 mm vanaf die Aarde. Die rooi planeet, Mars, ongeveer twee maal die grootte van die maan, is 54 m van die Son.
Nou volg die reuse-planete van ons Sonnestelsel, Jupiter en Saturnus, omtrent so groot soos ‘n tafeltennisballetjie, en is respektiewelik op afstande van 183 m en 336 m. Uranus is 675 m ver en Neptunus net meer as 1 km van die son. Die afstand na Puto wissel aansienlik, maar
laat ons dit 1,4 km van die son af plaas op ons skaalmodel. Opvallend in verband met die sonnestelsel is dat die afstande tussen die planete ontsaglik groot is in vergelyking met hul deursneë; verreweg die grootste deel van die ruimte is leeg! Komete kan in ons model veel verder beweeg, tot oor die 2 000 km, en die afstand na die naaste ster is oor die 9
500 km; onthou die deursnee van die Aarde is verklein na 3 mm.
Die afmetings van ‘n galaksie is so groot dat ons selfs met bostaande skaalmodel vind dat ons moet praat van honderde miljoene kilometer, wat alweer vir ons onbegryplike afstande is.
Lig beweeg baie vinnig, om die waarheid te sê sewe maal om die aarde in een sekonde. Nogtans neem die Son se lig agt minute om ons te bereik en die lig van Proxima Centauri, die naaste ster aan die Son, neem oor die vier jaar om ons te bereik.
Die deursnee van ons eie galaksie, die Melkweg, is 100 000 ligjaar: dit beteken dat die lig van ‘n ster aan die een kant van die galaksie 100 000 jaar neem om ‘n ster aan die teenoorgestelde kant te bereik. Sulke afstande is bokant die menslike begrip en tog is dit gering in verhouding met afmetings van die heelal! Sterrekundiges gebruik vandag nie eintlik meer die ligjaar as eenheid vir afstandbepaling nie, maar wel die parsec (pc), waar een parsec gelyk is aan 3,26 ligjaar.
Die Galaksie
Ons Son is nie alleen nie, om die waarheid te sê, dit het sowat 1011 bure.
(1011 = ‘n een met elf nulle). Saam met ander interstellêre medium soos gas, stofdeeltjies en newels vorm hierdie sterre (of sonne) ons Galaksie. Op ‘n donker maanlose nag sal jy enkele duisende sterre aan die hemel kan sien, wat nie egalig versprei is nie, maar skynbaar gekonsentreerd is om ‘n strook van lig, die sogenaamde Melkweg. Dit is
nie altyd ewe sigbaar nie en kan die duidelikste gesien word aan die aandhemel gedurende Desember en Junie. Wat ons daar sien, is eintik ‘n reuse spiraal-sterrestad.
Ongelukkig kry ons ‘n taamlik verwronge beeld daarvan want in werklikheid bevind ons ons binne-in daardie stad. Stel jou
nou voor dat ons ‘n hele paar donderdduisend parec weg beweeg van die aarde af en dan terugkyk. Ons sal dan ‘n groot plat skyf sien met ‘n ellipsoïdale sentrale bult, iets soortgelyk soos wanneer mens twee gebakte eiers rug aan rug teen mekaar sou plaas. Die materie is nie eweredig versprei nie, maar kom voor in enkele spiraalarms.
Die Melkweg-galaksie is sowat 30 kpc in deursnee en 'n aantal honderd parsec dik.
Die son bevind hom in een van die spiraalarms omtrent twee derdes vanaf die
nukleus na die rand. Behalwe die sterre bevat spiraalarms van die galaksie ook
die ekwiwalent van 1010 Sonmassas in die vorm van interstellêre
materie (gas en stof). Die arms is gebiede waar sterre ontstaan, en bevat jong
sterre wat uit hierdie materie voortgekom het. Hierdie sterre, soos die Son, is
warm en helder. Daar is egter byna geen jong warm blou sterre of interstellêre
materie in die kernbult nie en daarom word dit aanvaar dat daar nie meer
stervorming in die bult plaasvind nie. Hierdie sterre, wat arm is aan metale,
word ook gevind in die bolvormige sterrehope wat in 'n halo om ons galaksie
voorkom. Die sterre in die galaktiese skyf beweeg om die nukleus in benaderde
sirkelbane. Die Son op 'n afstand van omtrent 8 kpc vanaf die middelpunt het 'n
omlooptyd van oor die 200 miljoen jaar.
Die werklike middelpunt van die Galaksie is nie waarneembaar in die sigbare
golflengtes van die elektromagnetiese spektrum nie, selfs nie met die grootste
teleskope nie. Daar is net eenvoudig te veel stof, gas en ander absorberende
materie in daardie rigting. Langer golflengtes word nie so maklik geabsorbeer
nie en daarom word die kern van die Galaksie ondersoek in infrarooi en radio-
golflengtes.
Sterre is ander Sonne, reuse-bolle van gloeiende gas, en hul kleure verskil. Om
die waarheid te sê, sterre verskil geweldig onder mekaar wat betref afmetings,
kleur, temperatuur en fisiese gedrag.
Ekstragalaktiese Sterrekunde
Op 'n helder maanlose aand lyk dit of daar ontelbare voorwerpe met die
blote oog sigbaar is, maar dit is nog net die begin. Om die waarheid te
sê, daar is slegs drie voorwerpe aan die hemel (die Groot en die Klein
Maggellaanse Wolke en die Andromeda-galaksie) wat jy met die blote oog kan
sien wat nie tot ons eie Galaksie, die Melkweg, behoort nie. Sit 'n
oomblik stil en dink na oor hoe ontsaglik groot ons eie Galaksie
werklik is. Hoe ver is die verste voorwerpe wat met die blote oog sigbaar
is?
Wel, dit is nie net 'n paar honderdmiljoen kilometer soos na die planete
toe nie, of 'n paar parsec soos na die naaste sterre, maar 687 kpc na 'n
dowwe ligkolletjie in die noordelike sterrebeeld Andromeda. Dit is 'n
eksterne galaksie, baie nes ons eie, net groter, en dit word genoem M31,
of NGC224, die Andromeda-galaksie. Die lig wat ons nou sien het die
Andromeda-galaksie 2 200 000 jaar gelede verlaat. Dit is 'n
suster-galaksie van ons eie melkweg en, ondanks sy enorme afstand, is dit
een van naaste bure wat gravitasiekragte op ons uitoefen.
Die Groot en Klein Maggellaanse Wolke lyk na twee los stukke van die
suidelike Melkweg. Hulle is twee satelliet-galaksies van ons s'n, op
afstande van respektiewelik 50 kpc en 60 kpc. Ons weet nou van byna 30
galaksies wat tot die Plaaslike Groep behoort. Hierdie Plaaslike Groep van
galaksies het 'n deursnee van ongeveer 1 Mpc en is taamlik geïsoleer van
die meer afgeleë galaksies, baie waarvan in soortgelyke groepe voorkom.
Ons Melkweg-galaksie se deursnee is 30 kpc of 100 000 ligjaar, weereens is
die afstande so groot dat dit vir die menslike verstand moeilik is om te
begryp. Kom ons verander die skaal en ons krimp die Melkweg todat dit so
groot is soos die vasteland van Afrika, vanaf Kaapstad tot Kaïro. Ons sal
dan met die grootste moeite die presiese plek moet soek waar die Son en
die Aarde hulle bevind as mikroskopiese klein kolletjies 1 mm uitmekaar.
Op hierdie skaal is die deursnee van die Aarde 0.0001 mm. Miskien moet ons
weer kalm besin oor die enorme afmetings van ons eie sterrestad, ons
Melkweg-galaksie.
"As ek u hemel aanskou,
die werk van u vingers, die maan en sterre wat U toeberei het- wat is die mens
dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?" Ps. 8:4,5
Kliek hier vir 'n paar ster-fotos
Woordelys
Astronomiese Eenheid
Die gemiddelde afstand tussen die Son en die Aarde en gelyk aan 149 597 870 km. Afkorting A.E.
Galaksie
‘n Baie groot versameling sterre en interstellêre materie wat die boustene van die heelal uitmaak. Galaksies word geklassifiseer in spirale, elliptiese en onreëlmatige galaksies. Die meeste galaksies kom nie enkel voor nie maar wel in pare of groter groepe. Ons eie galaksie (die Melkweg) is 31 kpc in deursnee en bevat
1011 Sonmassas.
Heelal
Die totale bestaande materie. Vermoedelik bestaan dit vir die grootse deel uit galaksies en is dit uniformig op ‘n groot skaal.
Interstellêre materie / medium
Die materie tussen die sterre, wat verantwoordelik is vir minstens 10% van die massa van ‘n tipiese spiraalgalaksie. Dit bestaan hoofsaaklik uit waterstof, helium, suurstof, swaarder elemente en stofdeeltjies.
Komeet
Een van die geringer lede van die Sonnestelsel met ‘n vaste kern bestaande uit stofdeeltjies en yse, gevorm uit bevrore waterdamp en ander gasse. Namate die komeet die son nader, ontwikkel ‘n koma om die kern en moontlik ook ‘n stert (roei). Slegs vier persent van die bekende komete is periodies en keer terug.
Kwasar
Ook genoem ‘n kwasi-stellêre objek of KSO, omdat hulle lyk na puntbronne van lig. Hulle is ekstra-galaktiese kompakte voorwerpe wat meer energie uitstraal as 100 galaksies. Hulle geweldige lumonisiteit maak hulle sigbaar oor groot afstande.
Ligjaar
Die afstand afgelê deur lig in een jaar, 94607 x 1011 km.
Magellaanse Wolke
Twee eksterne galaksies wat sateliete is van ons eie Galaksie. Die groot wolk (GMW) lê in die beeld Dorado en die klein wolk (KMW) in die beeld Tucana (Toekan). Hulle is die naaste twee galaksies aan ons op 46 kpc (GMW) en 63 kpc (KMW).
Magnitude
’n Logaritmiese skaal van helderheid van ‘n ster of ander voorwerp aan die hemel, waarvolgens ‘n verskil van 5 magnitudes die ekwivalent is van ‘n verskil in helderheid met ‘n faktor van 100. Die helderste sterre is van mag. –1 en die dofste wat met die blote oog sigbaar is mag. 6. Skynbare magnitude gee geen aanduiding van ‘n ster se werklike of intrinsieke helderheid nie. Absolute magnitude word gebruik vir sulke vergelykings. Dit is die magnitude wat die voorwerp sou hê as dit op die standaard afstand van 10 parsecs was. Afkorting mag.
Melkweg
Die dowwe strook lig aan die sterrehemel (ongeveer in ‘n noord-suid rigting) wat veroorsaak word deur tienduisende sterre en ander voorwerpe wat tot ons eie galaksie behoort.
Neutronster
’n Baie digte ster wat ontstaan uit ‘n ster wat ‘n supernova ontploffing ondergaan het. Sy deursnee is slegs enkele tientalle km, maar tog het dit ‘n massa soos die van die son.
Newels
Gebiede van stofdeeltjies en gas in die interstellêre medium wat in ‘n klein teleskoop soos newenagtige vlekke lyk. ‘n Newel kan ‘n gebied wees waar ‘n ster gebore word, of waar ‘n ster aan sy einde kom.
Nova (Nuwe ster)
‘n Ster waarvan die herderheid skielik toeneem met 10 magnitudes en meer (dit is ‘n faktor van 10 000 in sy uitstraling). Omtrent 10-15 word jaarliks in ons Galaksie waargeneem. ‘ n Nova behoort tot ‘n digby dubbelster waarvan een komponent ‘n wit dwerg is. ‘n Nova herhaal sy opflikkerings vermoedelik een maal elke 10 000 jaar.
Parsec
Afgelei van die twee woorde ‘parallaks’ en ‘sekonde’, en is die afstand waarop een astronomiese eenheid ‘n hoek van een sekonde onderspan. Dit word gebruik vir afstande groter as die sonnestelsel. Een parsec is gelykstaande aan 3,26 ligjaar. Afkortings: pc; 1 000 pc = 1 kpc; 1 000 kpc = 1 Mpc.
Plaaslike groep
’n versameling van ongeveer 30 galaksies, insluitende ons eie Galaksie, wat ‘n afsonderlike naby groep vorm.
Hulle is naby genoeg aan mekaar om gravitasiekragte op mekaar uit te oefen.
Pulsar
’n Vinnigdraaiende neutronster wat sy lig in ‘pulse’ uitstraal na die waarnemer terwyl dit in die rondte draai. Oorspronklik is hulle ontdek deur hul uitstraling in radiogolflengtes. Nou is daar reeds twee in sigbare lig opgespoor. Die bekendste voorbeeld is die Krapnewel wat ontstaan het na die supernova-ontploffing van 1054 n.C
Rooi reus
’n Ster teen die einde van sy bestaan, wat helium in sy kern en waterstof in sy buitelae brand. Dit het ‘n lae buitetemperatuur van slegs 3 000 °C en ‘n deursnee van etlike honderde maal díe van die son.
Son
Die naaste ster aan ons en die enigste een wat ‘n skyf vertoon, want die ander is te ver weg. Dit is ‘n tipiese middeljarige ster wat skyn deur waterstof in helium om te sit.
Die Sonnestelsel
Die sonnestelsel word gedefinieer as daardie volume van die ruimte wat al die voorwepe bevat wat onder die aantrekkingskrag van die son voortbeweeg. Dit strek tot onveveer halfpad na die naaste sterre en bevat nege planete met hulle talle mane, komete, astroïede, en interplanetêre materie soos
meteore en stofdeeltjies.
Supernova
’n Ster wat ‘n reusagtige ontploffing ondergaan waartydens sy buitelae teen baie hoë snelhede weggeblaas word, gewoonlik oor die 20,000 km
s-1. Ten einde die draaimomentum te behou, sal die oorblywende sterkern vinniger draai terwyl die ster in ‘n neutronster verander. Supernovas straal meer as 100 keer soveel uit as die gewone soort. Die uitbreidende skil van puin vorm later ‘n newel.
Swartgat
’n Voorwerp met so ‘n serk aantrekkingskrag, dat niks, selfs nie lig, uit sy gravitasieveld kan ontsnap nie. Swartgate kan waargeneem word slegs deur hul aantrekkingskrag op ander liggame. Die X-straalbron Cygnus X-1 is die waarskynlikste kandidaat vir ‘n swartgat.
Veranderlike ster
’n Ster waarvan die uitstraling gereeld of ongereeld varieer. Hulle vorm belangrike maatstawwe vir afstandsbepalings binne die Plaaslike Groep van galaksies.
Wit dwerg
’n Baie digte kompakte ster met ‘n volume soos díe van die Aarde en ‘n massa soos die van die Son, sodat ‘n vingerhoed vol materie oor die 10 metrieke ton weeg. Hulle luminositeit is maar laag en dus is hulle baie dof. Hulle is moontlik die uiteindelike produk van normale sterre met massas minder as 1.4 maal díe van die Son. Hulle kom ook voor in dubbelsterstelsels wat verband hou met novas.
Bronne geraadpleeg
Die Naghemel - Outeur: Peter Mack; Uitgewer: Struik
Between the Stars - Outeur: Redakteurs van Time-Life boeke; Uitgewer: Time-Life Books
Galaxies - Outeur: Redakteurs van Time-Life boeke; Uitgewer: Time-Life Books
|